Monday, November 3, 2014

Die Balkans toer - Sep/Okt 2014

Toergeselskap: Van Deventers, Lizeli en Joggie.
Lande: Kroasië, Bosnië en Herzegovina, Serbië, Kosovo, Albanië en Montenegro
Roete:


Einde September het ons 'n ongelooflike twee week lange "road trip" deur ses lande in die Balkans onderneem.  Die Balkans is die georgrafiese area waaroor die Balkans bergreeks strek. In die ou dae was die area wat ons gedek het(behalwe vir Albanië) een republiek: Jugoslawië. 

Vier oorloë tydens die 90s het Jugoslawië verdeel in ses lande wat deur die VN erken word: Slovenië, Kroasië, Bosnië en Herzegovina, Serbië, Macedonië en Montenegro .  Tot hede word Kosovo nie deur die VN erken as 'n onafhanklike land nie, maar baie lande doen wel. Amper twee dekades later is die tekens van die oorlog nog merkbaar, veral in Bosnië.  Vir meer agtergrond: 

http://en.wikipedia.org/wiki/Yugoslav_Wars

Albanië self het ook 'n stormagtige politieke geskiedenis van hulle eie, van 'n koninkryk tot Italiaanse kolonie en later een van die laaste regerings om vas te hou aan kommunisme:

http://en.wikipedia.org/wiki/Albania

Hier ons foto's met kommentaar waar interessant.

Bosnië en Herzegovina (BiH)



Omtrent die helfde van BiH is Moslems en die res van die populasie Ortodoks of Rooms Katoliek.  


Die brug in Mostar is een van BiH se mees bekende landmerke.  Die oorspronklike brug was in die 16e eeu deur die Ottomans gebou, maar gedurende die Bosnië oorlog opgeblaas en in die laat 90's weer herbou. 


Mostar van die ou brug af
Oorlog skade


In 1984 het Bosnië die Winter Olimpiese spele aangebied in Bjeslanica, net buite Sarajevo.  Minder as 'n dekade later was Bosnië in die middel van 'n oorlog en was hierdie bergagtige deel een van die min dele in die land wat veiligheid gebied het vir Bosniërs. Ons het hier in 'n pragtige landelike dorpie, Umoljani, gebly vir twee dae.






Umoljani het net een restaurant en geen winkels nie.  Die spyskaart is beperk tot twee geregte, vetkoek en Burek, 'n gerolde filodeeg pastei.  Vetkoek vir ontbyt, middag- en aandete het nogal rof geraak
Lam Burek







Sagerajevo is BiH se hoofstad en was van 1992 tot 1995 beset tydens die Bosnië oorlog.  Die stad is in 'n kom omring deur berge wat dit 'n maklike teiken maak vir 'n besetting.




Nicolaas het sy tweede verjaardag in Sarajevo gevier, hier sy verjaardagkoek. 




Daar is oral begrafplase in Sarajevo met die meerderheid sterfdatums tussen 1992 en 1995, die drie jaar wat die stad beset was.


Serbië

Ons het maar deur 'n klein deeltjie van Serbië gery en net een nag daar oorgebly in Zlatibor. Sal weer daar moet teruggaan.




Kosovo

Die VN sou voel ons moet die Kosovo foto's onder Serbië sit, maar aangesien die VK Kosovo se onafhanlikheid erken en ons nou Brits is, gee ons Kosovo sy eie opskriffie.



Die Decani klooster net buite Pec is een van die bes bewaarde kloosters in Kosovo.  Monnikke bly steeds hier en maak hulle eie kaas en wyn, die kaas was bietjie vreemd maar die wyn heel goed. Kosovo se bevolking is meestal Moslems, maar daar is baie kloosters in die land wat waardevol is vir die Serbiese Ortodokse Christene, daarom dat Serbi⌂ aanspraak maak op die grondgebied.  Die kloosters word steeds deur 'n spesiale VN mag opgepas.



Prizren

Albanië

Die hoogtepunt van Albanië en dalk ons hele toer was die bootrit op die Koman meer in die noorde van Albanië vanwaar ons terug gestap het oor die asemrowende Albanië Alpe. Ons was bederf met pragtige weer wat die drie dae onvergeetlik gemaak het.

Koman meer





Schoder, die basis vir ons sirkel roete oor die meer en berge, was 'n aangename verassing.  



Tirana die hoofstad van Albanië het ons ook beindruk.  Die stad is skoon, modern en het 'n baie lekker atmosfeer.

Suid van Tirana het ons Berat besoek.  Berat staan ook bekend as dit stad van duisend vensters.  Dis 'n pragtige plek en ook sentraal tot Albanië se wyn-industrie.


Montenegro

Omdat ons al vantevore Montenegro besoek het, het ons nie lank hier oorgebly nie.  Dit het ons wel weer opgeval wat 'n besonderse land dit is, 'n land van berge en see.


Sveti Stefan
Kroasië

Ons het twee nagte in Molunat gebly, 'n klein vissersdorpie naby die grens.



Ondanks die duisende toeriste wat Dubrovnik soos 'n miernes laat voel, is dit 'n baie indrukwekkende stad en 'n hoogtepunt van baie mense se besoek aan die Balkans.